fbpx
Trots Suid-Afrikaanse Bottomless Coffee Band nou amptelik CCFA-ambassadeurs

Trots Suid-Afrikaanse Bottomless Coffee Band nou amptelik CCFA-ambassadeurs

In hierdie chaotiese tyd van ‘n wêreldwye pandemie, raak ons nog meer bewus van die sinergie tussen planeet en mens; dat ons na ons omgewing moet omsien sodat ons omgewing na ons kan omsien” – Lourens en Esté Rabé 

Die Suid-Afrikaanse musiekduo Bottomless Coffee Band het hul nuutste enkelsnit en video getiteld WILDERNESS laasweek uitgereik. Dít hetgeval saam met die aankondiging dat hulle as amptelike ambassadeurs van die Community Conservation Fund Africa (CCFA) aangewys is. 

Lourens en Esté Rabé, huweliksmaats en lede van die duo Bottomless Coffee Band, het onlangs kragte saamgesnoer met die internasionale inisiatief CCFA as amptelike ambassadeurs van dié maatskappy sonder winsoogmerk.

CCFA is die geesteskind van twee vennote in die gasvryheidsbedryf, Accor en Mantis, wat besef het dat toerisme ’n aktiewe en direkte rol in gemeenskapsopheffing en natuurbewaring kan en móét vervul. Die droom? Om ’n ‘groendruk’ vir alle gasvryheidstoerisme in Afrika te skep. 

Die vennootskap tussen Bottomless Coffee Band en die CCFA het ontstaan ná ’n konsert in die Oos-Kaap verlede jaar. Adrian Gardiner, uitvoerende hoof en voorsitter van die CCFA, was in die gehoor. Hy het die duo ná die tyd genader en behoorlik aan die dink gesit met die vraag: “Wat doen julle, as musikante, vir natuurbewaring?

Die gedagte dat hulle moontlik deur hulle musiek by natuurbewaring betrokke kon raak, het Lourens en Esté so geïnspireer dat hulle dadelik hand op papier gesit het. En so het hulle enkelsnit WILDERNESS die lig gesien. “Die liedjie vertel die verhaal van ’n renosterkalf wat van sy ma geskei word nadat ’n stroper haar vir haar horing skiet. Dit dien as ’n metafoor vir die groter omgewing- en bewaringskrisis; ons is almal geskep om in harmonie en sinergie op hierdie planeet te leef – om daardie natuurstelsels te beskerm wat ons nie kan herskep as ons dit eers kwyt is nie,” verduidelik die twee. 

Soos baie ander, is Bottomless Coffee Band terdeë bewus van die huidige stand van ons planeet en die dringende behoefte daaraan om ons omgewing te bewaar, veral in samewerking met die gemeenskap. Hulle was oorgehaal om ’n verskil te maak met wat hulle het – musiek. Hulle sterk oortuiging en inspirasie vir WILDERNESS was ook die dryfkrag agter hulle vennootskap met die CCFA. “Vir ons gaan musiek daaroor om mense bymekaar te bring en stories te vertel. Ons bydrae is om die fakkel na verskillende gehore op alle vlakke van die samelewing uit te dra, die bewaringsboodskap te versprei en geld in te samel vir die saak.” 

Op die vraag oor wat hom na die duo aangetrek het, verduidelik Adrian: “Lourens en Esté se talent het my geïnspireer. En toe ek verlede jaar ná die konsert met hulle gesels, het ek besef dat hulle passie en musikale vermoëns hulle kragtige agente vir verandering kan maak. Hulle is die perfekte keuse om die bewaringsboodskap deur musiek uit te dra.” En dis presies wat die twee doen noudat hulle die rol van amptelike CCFA-ambassadeurs aanvaar het. 

Boonop het die duo ’n vennootskap met Fairview gesluit, wat onderneem het om R1,00 aan die CCFA te skenk elke keer as iemand die musiekvideo op sosiale media deel. ’n Gedeelte van die liedjieverkope sal ook aan die CCFA geskenk word.

Alle betrokkenes sal hulle sosialemediaplatforms gebruik om mense aan te moedig om die liedjie af te laai en so tot die saak by te dra: Hoe meer mense die liedjie bereik, hoe meer geld word vir bewaring ingesamel. “Ek dink musiek is die beste wêreldwye kommunikasiemiddel, en as daar ’n boodskap is wat juis nou op ’n wêreldverhoog oorgedra moet word, is dit bewaring,” sê Fairview-eienaar Charles Back. “Die twee werk so goed saam dat dit lands- en kultuurgrense kan oorsteek en mense oor die hele wêreld kan raak.” 

PROJEKTE VAN DIE CCFA EN BOTTOMLESS COFFEE BAND 

  • Bottomless Coffee Band was in Oktober verlede jaar die gaskunstenaars by die eerste CCFA-fondsinsameling, waar hulle “Wilderness” gesing het. Daardie aand is R700 000 ingesamel. “Ons glo die krag van musiek kan op voetsoolvlak gebruik word om steun vir bewaring te werf en mense van alle agtergronde aan te spoor om betrokke te raak.
  • Op 27 Maart was die “Wilderness”-liedjie en -musiekvideo amptelik uitgereik.
  • ’n Fondsnsamelingsgeleentheid word vir Junie in Port Elizabeth beplan.
  • In Oktober vind ’n boomplantkonsert by Fairview plaas.
  • ’n Konsert en fondsinsameling word ook vir Oktober in Londen beplan. Fairview en ander Suid-Afrikaanse handelsname sal saamwerk om hierdie storie na die VK te neem.
    Vir meer inligting oor die CCFA se huidige projekte, gaan na www.ccfa.africa

Om op hoogte te bly van Bottomless Coffee Band se deurlopende projekte, besoek gerus www.bottomlesscoffeeband.com

MEER OOR DIE CCFA 
Die grootste uitdaging waarvoor Accor en Mantis, twee internasionale gasvryheidsgroepe met eiendomme in Afrika, te staan gekom het, was hoe om ongerepte wildernisgebiede en wilde diere te beskerm. Toerisme maak staat op omgewingsbewaring, maar bemagtig, integreer en hef terselfdertyd ook plaaslike gemeenskappe op.

Hieruit is die Community Conservation Fund Africa (CCFA) geskep om die wanbalanse die hoof te bied en na ’n haalbare oplossing vir die toenemende bewaringskrisis in sowel Afrika as die res van die wêreld te soek. 

Die CCFA is nou reeds 18 maande lank betrokke by projekte om na die welstand van mense én die natuur om te sien. Die projekte help verlig armoede, bevorder persoonlike en maatskaplike transformasie, verander en hef gemeenskappe op, help verseker meer volhoubare leefstyle en werk koolstofvrystellings teen.

Suksesvolle projekte word tans met welslae in sewe lande in Suider-Afrika ondersteun. Dit wissel van inisiatiewe vir gorillagesondheid in Rwanda tot die voorsiening van skoon drinkwater aan gemeenskappe in Namibië, die beëindiging van die onwettige handel in bedreigde gryskroonkraanvoëls, die skep van groen landskappe, steun vir olifantbewaring, ’n mens/olifant-konflikbeheerprogram in Namibië, en die skep van ’n visseryprojek wat tans sowat 120 gesinne onderhou. 

MEER OOR BOTTOMLESS COFFEE BAND 
Lou en Esté het as twee ambisieuse studente by die Universiteit Stellenbosch ontmoet – Lou ’n stadsjapie van Durbanville, en Esté ’n Karoomeisie van Graaff-Reinet. Na ’n vinnige draai in die korporatiewe wêreld het hulle getrou, hulle gewone werke vaarwel toegeroep en hulle droom nagejaag om ander deur musiek en uitvoering te inspireer. 

Bottomless Coffee Band se styl bestaan uit sterk folk-rock-invloede met ’n moderne kinkel, voetestampritmes, treffende lirieke en ’n sweempie drama. Hulle doel is om musiek te maak wat hulle verskillende ontwikkelingsfases as musikante en skeppers weerspieël, en om deurentyd ten goede te verander. Hulle glo musiek is ’n instrument wat verenig en verkwik, en skryf dus lirieke en liedjies wat van plesier getuig, emosie ontlok en liefde, hoop en verandering verkondig. 

Bottomless Coffee Band het al drie albums en ’n paar enkelsnitte uitgereik. Hulle het voor gehore in bykans elke dorp in Suid-Afrika opgetree en etlike suksesvolle toere na Namibië, België en die Verenigde Koninkryk onderneem. Hoewel hulle reeds die afgelope tien jaar besig is om hulle in die musiekbedryf te vestig, weet hulle ook daar is nog baie werk wat voorlê om meer mense te bereik en die res van die wêreld aan Suid-Afrikaanse musiek bekend te stel. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook

Webtuiste: https://bottomlesscoffeeband.com/